Die Profesie van Ihdione
Updated: Mar 17, 2021
Die profesie van Ihdione is die spil waar rondom die Valora reeks wentel. Hoewel daar nie baie na die profesie verwys word in die eerste boek van die reeks nie, word dit in die daaropopvolgende boeke 'n belangrike fokuspunt.
Dalk kan die lesers ook tussen die lyne lees en korrek raai wanneer sekere gebeure en dialoog op die profesie sinspeel sonder dat dit prontuit gesê word.
Hier is 'n kykie na die Sienergodin se veelbesproke profesie in Afrikaans asook in die gode se taal van Atariaans.
n Wonderwerk so onmoontlik,
word ’n tweesnydende swaard
wat ’n vloek verbreek in die hemel,
maar ook ’n oorlog bring van haat
’n Keuse word gemaak
vir ’n skrale kans op hoop,
maar ’n boosheid verrys
uit die noodlot se verloop.
’n Ongekaarte pad
vir alles wat voorspel is
en net die sterre se oë weet
waarheen die reisiger op pad is.
’n Minnaar se hart vir ’n kroon verpand.
’n Vergete vegter wat in vlamme brand.
’n Swerwer om die kind huis toe te bring.
Eers dan kan die ligbringer die profesie volbring.
Tussen drie gekroonde pilare
gedoop in wit, bruin en swart
sal duisternis kniel
voor die kryger met die vreeslose hart.
Gode sal sterf op ’n maanverduisterde dag
en bondgenote sal opdaag
wat vir eeue reeds wag.
Maar wees gewaarsku, weet dit beslis.
Niks is soos dit is nie en alles is soos dit is.
