top of page
Search

Onderhoud met Laeticia Marais-Hugo

Updated: Mar 15, 2021

Vrae deur NOLUVU LUDIDI (Weslander Joernalis)


Waar het jy grootgeword? Vertel my ’n bietjie van jouself?


Ek het grootgeword in die pragtige Laeveld en skoolgegaan in Nelspruit. Na skool het ek drama gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria met die hoop om ’n draaiboekskrywer te word, maar nadat ek my wonderlike man op ’n Desember-vakansie in Langebaan ontmoet het, het ek sak en pak verhuis na die Weskus waar ek ’n loopbaan in finansiering begin het. Vir die afgelope paar jaar is ek vrou en mamma vir my man en twee kinders.


Wou jy altyd ’n skrywer word? Vertel my meer oor hoe jy hierdie pad gevolg het.


Alreeds van ’n baie jong ouderdom is ek versot op lees, skryf en dig. Ek het my eerste vollengte novelle geskryf op die ouderdom van dertien en hoewel dit nooit die lig gesien het nie, was ek vasbeslote om eendag ’n gepubliseerde skrywer te wees. Tydens die grendeltydperk van 2020, het ek besluit om uiteindelik aandag aan hierdie droom te gee. Ek dig ook reeds vir jare onder die pennaam - Laia Mais - en geniet poësie baie, maar my eerste liefde is fiksie boeke met sterk karakters, fantasie-komponente en ’n intrige wat jou op ’n tuimeltrein rit neem.


Wat is die naam van jou boek en wat was die inspirasie daaragter?


Die boek is getiteld Magika - ’n woordspeling op die woord ‘Magic’ - en is die eerste boek van die Valora-reeks waarvoor ek vier boeke beplan. Die inspirasie hieragter spruit vanuit my liefde vir sprokiesagtige verhale wat jou verbeelding op ’n reistog neem na ’n plek waar enigiets moontlik is. Die fantasie-genre is baie gewild in ander lande en volop beskikbaar in Engels, maar daar is nie veel daarvan vir volwassenes in Afrikaans beskikbaar nie. Nie net glo ek dat ’n skrywer moet skryf waarvan hy of sy hou om te lees nie, maar ook dat ons pragtige taal ’n boek verdien wat voorsiening maak vir lesers wat van hierdie genre hou.


Vertel my meer van hoe lank dit jou geneem het om Magika klaar te maak?


Ek het vir byna ’n maand slegs navorsing gedoen om myself te vergewis van die gebruike en tradisies van die Middeleeue. Die betrokke era sluit alles in van perde, swaarde en koninklikes tot spesifieke kleredrag en kosse. Ek het inspirasie-borde vir elke karakter geskep, padkaarte, tydlyne en agtergrond stories uitgepluis voordat ek begin skryf het. Daarna het dit my om en by vyf maande geneem om die eerste konsep te voltooi en ’n verdere vier maande om die manuskrip te slyp voordat dit na ’n professionele redigeerder gegaan het vir proeflees en finale redigering. Red Mouse Design & Publication in Wellington het my deurentyd bygestaan en raad gegee oor wat die uitgewersproses alles behels. Tussendeur het ek ook aan die tweede boek in die reeks begin skryf om te verseker dat daar kontinuïteit is en die eerste boek nie te veel geheime verklap wat die leser self in die daaropvolgende boeke moet ontrafel nie.


Hoekom sal jy mense aanraai om die boek te koop?


Die verhaal speel af in ’n fantasiewêreld met aristokrate, gode van ouds, profesieë en bose vyande. Voeg ’n onweerstaanbare prins, ’n gatskop heldin en ’n vurige romanse in die mengsel en jy is verseker van ’n storie wat jou lank sal bybly nadat jy dit gelees het. Magika se storielyn is ook nuut en vars tot die Afrikaanse boekebedryf. Die dialoog en intriges draai nie doekies om nie en raak soms sensitiewe kwessies aan. Dit bevat hope aksie, verraad, liefde en onbeantwoorde raaisels wat jou op die punt van jou stoel sal hou tot die laaste bladsy.


Wat doen jy in jou spaar tyd en watter ander liefde het jy behalwe skryf?


Wanneer ek nie skryf nie, drink ek heeltemal te veel koffie, lees ’n stapel boeke op ’n slag en spandeer tyd saam met my familie en vriende. Ek is ook gaande oor enige soort sport en wanneer ek ’n tydjie kan afknyp, hou ek daarvan om te draf, fiets te ry en netbal te speel.


Het jy ’n quote waar by jy lewe?


Daar is te veel om te noem, maar ’n spesiale aanhaling wat ek graag as ’n lewensleuse gebruik, is deur Bonnie Hammer: “Jy kan nie ’n persoon se optrede verander nie, maar jy kan wel verander hoe jy daarop reageer.”


Het jy enige advies vir opkomende skrywers?


Navorsing oor jou karakters, milieu en teikenmark is baie belangrik voordat jy begin skryf. Wanneer jou storie ’n goed beplande raamwerk van begin, middel en einde het, is jy gewaarborg van ’n geloofwaardige verhaal wat maklik vloei en die leser se aandag deurentyd vasvang. Moet vir eers jouself nie steur aan spel- en taalfoute in jou eerste konsep nie. Ernest Hemmingway het gesê: “The first draft of anything is always supposed to be bad”. Kry die storie aanvanklik net op papier. Jy kan later redigeer, byvoeg en verander. ’n Professionele proefleser en redigeerder is ook van onskatbare waarde om sodoende jou manuskrip in ’n diamant te slyp. Besluit dan of jy dit na een van die groot uitgewershuise wil stuur en of jy die boek self gaan publiseer deur middel van ’n self uitgewersmaatskappy. Laastens en die heel belangrikste: skryf vir jouself. Sommige mense gaan baie van jou boek hou en ander weer glad nie. You’re not everyone’s cup of tea en dis oukei. Neem die kritiek met ’n knippie sout, maar gebruik dit ook om jou toekomstige skryfwerk te verbeter.




9 views0 comments

Recent Posts

See All
Post: Blog2_Post
bottom of page